Media

Skitterblink in Woorde vir die Afrikaanse Taal: Download document
RSG – Woord van die week:

Skitterblink betekenis:

Skitterblink

b.nw., -; skitterblinker, skitterblinkste.

  1. Baie blink, in so ‘n mate dat dit skitter: So skitterblink was die tempel dat dit soos ‘n lig in die donker geskyn het (Kinders v.d. Wêreld I, 1962, 147).
  2. Gekleurde oogskadu helder oordag getuig beslis van swak smaak. Bêre ook die skitterblink grimeermiddels tot na sononder (Boerd. S.A., Jan. 1972, 48).
  3. Die meisie met die skitterblink blonde hare is … besig met ‘n telefoniese gesprek (R. Pretorius: Persone, 1970, 150).
  4. Skep ‘n verruklike stemming met skitterblink elemente (Tuis, Des. 2007, 35).

< Ook byw.:

  1. Toe ons … op die oop sand (uitkom), lê die see voor ons skitterblink onder die glans van die maan (C.J. Langenhoven: Werke III, 1956, 261).

< Ook selfst.:

  1. Die gang se vloer is ‘n koue skitterblink (S.C. Brink in Sarie, 29 Apr. 1964, 50).
  2. As ons sy blinkblik skoonmaak, moet ons onse hemde omkeer aantrek, voeringkant bo, want anners krap die hempsknope strepe oppie skitterblink van’ie kar (A. Viljoen: Kwaads, 1985, 29).
  3. Met helder, skerp ogies ontdek jy die een na die ander pragtige gekleurde klippie … Swartetjies, groenetjies, donkerrooietjies en af en toe ‘n skitterblinketjie (A.A.J. v. Niekerk in Koninkryk, 1981, 112).

< Ook ww.:

  1. Die water is ‘n waaier, die pronkstert van ‘n pou wat skitterblink in die lig (H. Grové: Jaarringe, 1966, 101).

< Ook fig.:

  1. Na raming is vyf persent … van Suid-Afrika se skoolgaande jeug van alle bevolkingsgroepe begaaf. Dit is in landsbelang om dié skitterblink mensemateriaal vroegtydig uit te ken en na hul spesifieke onderwysbehoeftes om te sien (Panorama, Okt. 1985, 3).
  2. T.M. is die Goudstad se skitterblinkste woordsmid (Burg., 30 Jan. 2004, 23).